Bankrotskap
Bankrotskap is 'n regsproses waardeur persone of ander entiteite wat nie hul skuld aan krediteure kan terugbetaal nie, verligting van sommige of al hul skuld kan verkry. In die meeste regsgebiede word bankrotskap deur 'n hofbevel ingestel, wat dikwels deur die skuldenaar self inisieer word.
Bankrotskap is nié die enigste regstatus wat 'n insolvente persoon kan hê nie; dit beteken dat die term bankrotskap nié 'n sinoniem vir insolvensie is nie.
Etimologie
[wysig | wysig bron]Die woord bankrotskap is afgelei van die Italiaanse banca rotta, wat letterlik "gebreekte bank" beteken. Daar word dikwels gesê dat die term sy oorsprong in Renaissance-Italië het, waar daar na bewering 'n gebruik bestaan het om 'n bankier se bank stukkend te slaan indien hy versuim het om te betaal. Die bestaan van so 'n ritueel word egter betwyfel.[1][2]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]
In Antieke Griekeland het bankrotskap nie bestaan nie. As 'n man skuld gehad het en hy nie kon betaal nie, is hy en sy vrou, kinders of bediendes gedwing tot "skuldslawerny" totdat die skuldeiser verliese deur hul fisiese arbeid verhaal het. Baie stadstate in antieke Griekeland het skuldslawerny tot 'n tydperk van vyf jaar beperk; skuldslawe het beskerming van lewe en ledemate gehad, wat gewone slawe nie gehad het nie. Dienaars van die skuldenaar kon egter deur die skuldeiser ná daardie sperdatum aangehou word, en is dikwels gedwing om hul nuwe heer lewenslank te dien – gewoonlik onder aansienlik swaarder omstandighede. 'n Uitsondering op hierdie reël was Athene, waar slawerny weens skuld kragtens die wette van Solon verbied is; gevolglik was die meeste Atheense slawe buitelanders (Grieke of ander).
Die *Statute of Bankrupts* (Wet op Bankrotskappe) van 1542 was die eerste wetgewing onder die Engelse reg wat met bankrotskap of insolvensie gehandel het.[3] Bankrotskap word ook in Oos-Asië gedokumenteer. Volgens al-Maqrizi het die Yassa van Genghis Khan 'n bepaling bevat wat die doodstraf voorgeskryf het vir enigiemand wat drie keer bankrot gegaan het.
Dit het al dikwels voorgekom dat 'n nasie nie aan sy verpligtinge ten opsigte van staatsobligasies kon voldoen nie. So het Filips II van Spanje byvoorbeeld in 1557, 1560, 1575 en 1596 vier keer 'n staatbankrotskap moes verklaar. Volgens Kenneth S. Rogoff: "Alhoewel die ontwikkeling van internasionale kapitaalmarkte voor 1800 redelik beperk was, teken ons nietemin die verskeie gevalle van wanbetaling deur Frankryk, Portugal, Pruise, Spanje en die vroeë Italiaanse stadstate aan. Aan die rand van Europa het Egipte, Rusland en Turkye 'n geskiedenis van chroniese wanbetaling."[4]
Moderne reg en skuldherstrukturering
[wysig | wysig bron]Die hoofklem van moderne insolvensiewetgewing en praktyke vir skuldherstrukturering in die sakewêreld val nie meer op die uitskakeling van insolvente entiteite nie, maar op die herstrukturering van die finansiële en organisatoriese raamwerk van skuldenaars wat finansiële nood ervaar, ten einde die rehabilitasie en voortbestaan van die onderneming moontlik te maak.
Vir private huishoudings is dit belangrik om die onderliggende probleme te evalueer en die risiko dat finansiële nood weer kan opduik, tot die minimum te beperk. Daar is beklemtoon dat skuldadvies, 'n toesighoudende rehabilitasietydperk, finansiële opvoeding en maatskaplike ondersteuning – om inkomstebronne te vind en die bestuur van huishoudelike uitgawes te verbeter – alles deel moet uitmaak van hierdie rehabilitasieproses (Reifner et al., 2003; Gerhardt, 2009; Frade, 2010). In die meeste EU-lidlande is die kwytskelding van skuld onderhewig aan 'n verpligting tot gedeeltelike betaling, sowel as 'n aantal vereistes met betrekking tot die skuldenaar se gedrag. In die Verenigde State (VS) is kwytskelding in 'n mindere mate aan voorwaardes gekoppel. Die spektrum in die EU is breed, met die VK wat die naaste aan die Amerikaanse stelsel beweeg (Reifner et al., 2003; Gerhardt, 2009; Frade, 2010). Die ander lidlande bied nie die opsie van skuldkwytskelding nie. Spanje het byvoorbeeld in 2003 'n insolvensiewet (ley concurs) aanvaar wat voorsiening maak vir skuldvereffeningsplanne. Dit kan lei tot 'n vermindering van die skuld (tot 'n maksimum van die helfte van die bedrag) of 'n verlenging van die terugbetalingstydperk met hoogstens vyf jaar (Gerhardt, 2009), maar dit maak nie voorsiening vir skuldkwytskelding nie.[5]
In die VSA is dit baie moeilik om federale of federaal gewaarborgde studieleningskuld af te skryf deur insolvensie aan te vra.[6] Anders as die meeste ander skuld, kan sodanige studielenings slegs kwytgeskeld word indien die persoon wat om kwytskelding aansoek doen, spesifieke gronde daarvoor bewys ingevolge die Brunner-toets[7] waarvolgens 'n hof drie faktore oorweeg:
- Indien die lener verplig word om die lening terug te betaal, kan hy of sy nie 'n minimum lewenstandaard handhaaf nie;
- Die lener se finansiële situasie sal waarskynlik vir die grootste deel van, of die hele, terugbetalingstydperk voortduur; en
- Die lener het te goeder trou gepoog om die studielenings terug te betaal.[7]
Selfs al bewys 'n skuldenaar al drie elemente, mag 'n hof dalk slegs 'n gedeeltelike kwytskelding van die studielening toelaat. Studieleners kan dalk daarby baat vind om hul betalings te herstruktureer deur middel van 'n Hoofstuk 13-bankrotskap-terugbetalingsplan, maar min kwalifiseer vir die kwytskelding van 'n gedeelte of die geheel van hul studieleningskuld.[8]
Bedrog
[wysig | wysig bron]Bankrotskapbedrog is 'n witboordjiemisdaad wat gewoonlik behels dat 'n skuldenaar bates verberg om likwidasie tydens bankrotskapprosedures te vermy. Dit kan die indiening van vals inligting, veelvuldige aansoeke in verskillende jurisdiksies, omkopery en ander dade insluit.[9]
Alhoewel dit moeilik is om veralgemenings oor verskillende jurisdiksies heen te maak, behels algemene misdrywe ingevolge bankrotskapwetgewing tipies die verberging van bates, die verberging of vernietiging van dokumente, belangebotsings, bedrieglike eise, vals verklarings of bewerings, en die vasstelling van fooie of herverdelingsreëlings. Valse inligting op bankrotskapvorms kom dikwels neer op meinede. Die indien van verskeie aansoeke is nie op sigself krimineel nie, maar dit kan bepalings van die insolvensiereg oortree. In die VSA fokus wetgewing oor insolvensiebedrog veral op die geestesgesteldheid wat met spesifieke handelinge gepaardgaan.[10][11] Insolvensiebedrog is 'n federale misdaad in die Verenigde State.[12]
Bankrotskapsbedrog moet onderskei word van strategiese bankrotskap, wat nie 'n misdaad is nie, aangesien dit 'n werklike (eerder as fiktiewe) toestand van bankrotskap skep. Dit kan egter steeds nadelig wees vir die persoon wat die aansoek indien.
Alle bates moet in die bankrotskapskedules openbaar gemaak word, ongeag of die skuldenaar glo dat die bate 'n netto waarde het aldan nie. Dit is omdat, sodra 'n bankrotskapsversoekskrif ingedien is, dit die krediteure – en nie die skuldenaar nie – toekom om te besluit of 'n spesifieke bate waarde het. Die toekomstige gevolge daarvan om bates uit die skedules weg te laat, kan baie ernstig wees vir die skuldenaar wat hom hieraan skuldig maak. In die Verenigde State kan 'n afgeslote bankrotskapsaak heropen word op versoek van 'n krediteur of die Amerikaanse kurator ("U.S. Trustee"), indien 'n skuldenaar later probeer om eienaarskap van so 'n "ongeskeduleerde bate" te eis nadat hy reeds van alle skuld in die bankrotskapsaak onthef is. Die kurator kan dan op die bate beslag lê en dit likwideer tot voordeel van die krediteure (wie se eise voorheen afgeskryf is). Of die verberging van so 'n bate ook vervolg moet word as bedrog of meinede, is dan ter diskresie van die regter of die Amerikaanse kurator.
Kyk ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Frank Olds Loveland (1912). A treatise on the law and proceedings in bankruptcy. The W. H. Anderson Co. pp. 4–.
- ↑ Verskeie bronne:
- "Bankrupt"..
- "Bankrupt – Definition and More from the Free Merriam-Webster Dictionary". Merriam-Webster Dictionary. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Maart 2014. Besoek op 22 April 2014.
- "Bankrupt". Oxford Woordeboeke. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 April 2014. Besoek op 22 April 2014.
- Vrooman, O. O. (1932). "Origin and History of the Bankruptcy Law". Commercial Law Journal. 37: 127.
- Sheppard, Jerry (1995). "Beautifully Broken Benches: A Typology of Strategic Bankruptcies and The Opportunities for Positive Shareholder Returns". Journal of Business Strategies (in Engels). 12 (2): 99-134. doi:10.54155/jbs.12.2.99-134. ISSN 0887-2058. S2CID 13605970.
- ↑ Manson, Edward William Donoghue (1911). "Bankruptcy". Encyclopædia Britannica (11de) 3. Cambridge University Press.
- ↑ Carmen M. Reinhart, Kenneth S. Rogoff (2009). "This time is different: eight centuries of financial folly. Geargiveer 14 April 2016 op Wayback Machine". Princeton University Press. bl. 30. ISBN 0-691-14216-5.
- ↑ Dubois & Anderson (2010). "Managing household debts: Social service provision in the EU". Werksdokument. Dublin: Europese Stigting vir die Verbetering van Lewens- en Werksomstandighede. Geargiveer 7 November 2013 op Wayback Machine.
- ↑ Ferral, Katelyn (28 Desember 2017). "Narrow bankruptcy laws make it nearly impossible to discharge student debt". The Cap Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 September 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
{{Verwys nuus}}: Ongeldige|url-status=aktief(hulp) - 1 2 Treff, Leslie (29 Oktober 2012). "'Undue Hardship' Under Section 523(a)(8): Can the Debtor's Student Loans Be Discharged?". LexisNexis Legal Newsroom. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Maart 2018. Besoek op 13 Maart 2018.
- ↑ Gerson, Seth J. (Januarie 1995). "Separate Classification of Student Loans in Chapter 13". Washington University Law Quarterly. 73 (1): 269. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Februarie 2017.
- ↑ "Bankruptcy fraud". Wex. Legal Information Institute, Cornell University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Augustus 2011. Besoek op 22 Junie 2022.
- ↑ Sien 140 Cong. Rec. S14, 461 (daaglikse uitgawe, 6 Oktober 1994).
- ↑ Sjabloon:USC. trac.syr.edu. Transactional Records Access Clearinghouse. Geargiveer 25 Julie 2008 op Wayback Machine.
- ↑ "18 U.S. Code § 157". U.S. Government Publishing Office. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Mei 2018. Besoek op 14 Mei 2017.
{{Verwys web}}: Ongeldige|url-status=aktief(hulp)