Stellenberg

Stellenberg is 'n Kaaps-Hollandse huis in die Kaapse Skiereiland.
Die huis in Kenilworth is aan die bopunt van die oprylaan bekend as Stellenberglaan wat uitdraai uit die M4-pad.
Hierdie historiese plaas van ±50 ha is in 1697 deur Simon van der Stel aan Jacob Vogel toegeken. Slegs ‘n maand later word dit oorgedra aan Frans, ‘n seun van die goewerneur, wat eienaar bly tot 1717. Die aanvanklike naam was Stellenburg. Waarskynlik is die eerste huis reeds voor 1780 deur Jan de Wit op die perseel opgerig. Vanaf 1795 was dit die eiendom van Johan Isaac Rhenius en van 1802 tot 1812 van Mijndert Adriaan van Schoor. Beide Rhenius en Van Schoor was verwant aan Louis Thibault en daarom word aanvaar dat Thibault en Anton Anreith betrokke was by die ontwerp en oprigting van die U-vormige huis, buitegeboue, toegangspoort met sy kruike en ommuurde werf. Vanaf 1795 tot 1806 is die huis deur verskeie Engelse offisiere en amptenare bewoon, soos sir James Henry Craig en lord George Macartney. In 1804 het Jacob Abraham de Mist, sy seun Arnoldus en sy bekende dogter en dagboekskryfster Augusta de Mist daarin tuisgegaan.
‘n Kenmerk van die huis is sy besondere halsgewel wat baie ooreenkom met dié van Groot Constantia. Opvallend is die aantal skoorstene, die Bataafse teëls en die hanebalke van geelhout. Mooi groot akkerbome het vir eeue lank die oprit en werf versier. In die huis is onder andere antieke meubels, skilderye en beeldhouwerk deur bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars te besigtig.
Die hele opstal is in Junie 1971 tot kultuurmonument verklaar.
Lees ook
[wysig | wysig bron]Let Wel
[wysig | wysig bron]‘n Woonbuurt tussen Bellville en Durbanville dra ook die naam Stellenberg.
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0
- Kench, John en David Goldblatt en Margaret Courtney-Clarke: Cape Dutch homesteads. Kaapstad: Struik, 1981. ISBN 0-86977-140-X
- Viney, Graham en Alain Proust: Colonial Houses of South Africa. Kaapstad: Struik, 1995. ISBN 0-947430059