Die Suid-Afrikaanse nasionale vrouekrieketspan, met die bynaam Proteas, is die nasionale vrouekrieketspan wat Suid-Afrika in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Krieket Suid-Afrika (KSA) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Die Proteas is na die koningsprotea, die nasionale blom van Suid-Afrika, genoem. Krieket is een van Suid-Afrika se nasionale sportsoorte en die Proteas behoort tot dié land se vernaamste nasionale spanne.
In 1960 het Suid-Afrika in sy eerste toetswedstryd teen Engeland gespeel, maar nadat ’n onverbiddelike weerstand teen Suid-Afrika se apartheidsbeleid ontstaan het, is ’n internasionale verbanning uit internasionale krieket aangekondig, nadat ander internasionale beheerliggame Suid-Afrika ook uitgesluit het. Vervolgens het Suid-Afrika nie aan die eerste vier vrouekrieketwêreldbekertoernooie (in 1973, 1978, 1982 en 1988) deelgeneem nie.
Die uitsluiting uit internasionale krieket was tot in 1991 in werking en sedert hul hertoelating vertoon die span sterk, maar het tot dusver minder sukses tydens internasionale toernooie behaal. Al is Suid-Afrika telkens een van die gunstelingspanne om beide die vrouekrieketwêreldbeker en die T20I-vrouewêreldbeker te verower, het dié eer hulle nog nie te beurt geval nie. Hul beste prestasie tot dusver is die eindstryd, wat die Proteas tydens een vrouekrieketwêreldbekertoernooi gehaal het (in 2025) en twee T20I-vrouewêreldbekertoernooie (in 2023 en 2024). Suid-Afrika is tans (Julie 2026) vierde op die IKR-vroue-eendagranglys en vyfde op die Twintig20-vrouewêreldranglys.[8][9]
Van die 1880’s af is krieket in Suid-Afrika deur beheerliggame bestuur en van die 1890’s af was daar aparte beheerliggame vir elkeen van die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe.[10] Op 15 Junie 1909 het Suid-Afrika saam met Australië en Engeland die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) gestig.[11] Die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika het in Junie 1991 met die samesmelting van die in 1976 gestigte Suid-Afrikaanse Krieketunie en die Suid-Afrikaanse Krieketraad ontstaan, waardeur die etniese verdeling in Suid-Afrikaanse krieket beëindig is. Krieket Suid-Afrika (KSA) is in 2002 gestig en het tot in 2008 langs die in 1991 gestigte Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika (VKR) bestaan. Van 2002 tot 2008 was die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika verantwoordelik vir amateurkrieket, terwyl Krieket Suid-Afrika toesig gehou het oor professionele krieket; in 2008 het die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika saamgesmelt met Krieket Suid-Afrika. Sedertdien is dit die beheerliggaam van krieket in Suid-Afrika en toesighouer van die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspanne.[12] Reeds in 1991 het Suid-Afrika weer ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en Suid-Afrika mag dus toetskrieket speel.[13] Daarbenewens was die Suid-Afrikaanse beheerliggaam in 1997 ’n stigtingslid van die Afrikakrieketvereniging.[14]
Krieket Suid-Afrika bestuur al die Suid-Afrika-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is KSA verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Suid-Afrikaanse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Suid-Afrika oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-vrouekrieketwêreldbeker deelneem.[15]
Vrouekrieket in Suid-Afrika dateer terug na die laat 19de eeu. Destyds is die eerste klubs in Port Elizabeth en Pietersburg gestig. Die meeste van hierdie klubs het egter slegs kortstondig bestaan. In die 1930’s is daar weer probeer om vrouekrieket in Suid-Afrika te vestig, maar dit het eers ná die Tweede Wêreldoorlog geslaag, nadat vrouekrieket vanuit sy vesting in die Kaapprovinsie na die ander provinsies versprei het.[16] Die eerste internasionale wedstryd is tydens die 1960/61-seisoen beslis, toe Engeland Suid-Afrika besoek het. In Desember 1960 het die Suid-Afrikaners in hul eerste toetswedstryd in Port Elizabeth gespeel.[17] Hulle het die reeks met 0–1 verloor. Ná die toer het Suid-Afrika se internasionale betrekkinge vanweë sy apartheidsbeleid versleg. As gevolg van die affêre rondom Basil D'Oliveira het internasionale spanne geweier om aan sporttoernooie in Suid-Afrika deel te neem.[18] Gevolglik is die 1968-reeks teen Engeland afgelas en tydens die 1971/72-seisoen is die laaste reeks teen Nieu-Seeland beslis, wat die Suid-Afrikaners ook met 0–1 verloor het.[19]
Die Suid-Afrikaanse nasionale vrouekrieketspan in 2009
Terwyl in manskrieket rebelletoere na Suid-Afrika onderneem is om die isolasie te omseil, het vrouekrieket gesukkel. Ook nadat die skorsing in 1991 gelig is, het dit tot in 1997 geneem dat Suid-Afrika weer ’n internasionale wedstryd gespeel het, toe hulle na Ierland en Engeland vertrek het.[20] Terwyl die span sy reeks teen Ierland met 3–0 gewen en sy EDI-buiging gemaak het, is hulle deur Engeland met 2–1 geklop. Daarna het die Suid-Afrikaners aan die Vrouekrieketwêreldbeker 1997 deelgeneem, waar hulle in die kwarteindstryd teen Indië vasgeval het. Daarna is die span in sy EDI-reekse in Australië, Nieu-Seeland en Engeland verslaan. Tydens die Vrouekrieketwêreldbeker 2000 het hulle die halfeindrondte gehaal, maar hulle is deur Australië geklop. Tydens die 2001/02-seisoen het die span sy reeks teen Indië gewen, waarna hulle drie agtereenvolgende reekse teen Engeland verloor het. Die Vrouekrieketwêreldbeker 2005 is in Suid-Afrika beslis, maar die gasvroue het slegs een oorwinning oor Wes-Indië aangeteken en is uitgeskakel.[21][22] Gedurende somer 2007 het die Proteas sy eerste toetsoorwinning oor Nederland aangeteken.[23] Tydens die Vrouekrieketwêreldbeker 2009 is die span sonder ’n oorwinning in die groepfase uitgeskakel.[24]
Tydens die eerste drie T20I-vrouewêreldbekertoernooie (in 2009, 2010 en 2012) is die Suid-Afrikaners telkens in die groepfase uitgeskakel, terwyl die span se prestasies onder die kapteinMignon du Preez verbeter het. So het hulle tydens die T20I-vrouewêreldbeker 2014 die halfeindrondte gehaal, waar hulle deur Engeland geklop is.[25] Onder Dane van Niekerk het die Proteas ook tydens die Vrouekrieketwêreldbeker 2017 weer die halfeindrondte gehaal en weer teen Engeland vasgeval.[26] Tydens die T20I-vrouewêreldbeker 2020 is hulle in die halfeindrondte deur Australië geklop.[27] Tydens die Vrouekrieketwêreldbeker 2022 het hulle ook daarin geslaag, maar hulle is deur Engeland verslaan. Tydens die T20I-vrouewêreldbeker 2023 het die Proteas in die halfeindrondte Engeland geklop en vir die eerste keer ’n wêreldbekereindstryd gehaal. Die span het egter teen Australië verloor.[28] Suid-Afrika het tydens die T20I-vrouewêreldbeker 2024 in die Verenigde Arabiese Emirate sy tweede agtereenvolgende eindstryd gehaal, maar hulle is deur Nieu-Seeland geklop.[29] Die Proteas het tydens die Vrouekrieketwêreldbeker 2025 vir die eerste keer ’n krieketwêreldbekereindstryd gehaal – beide mans en vroue – maar met 52 lopies teen die medegasvroue Indië vasgeval.[30] Die span het by die T20I-vrouewêreldbeker 2026 na die halfeindstryd deurgedring, waar hulle deur die gasvroue Engeland egter met 40 lopies geklop is.[31]
Daar het altesaam 71 spelers toets-, 97 spelers EDI- en 65 spelers T20I-wedstryde vir Suid-Afrika gespeel. Vervolgens die spelers wat vir die Suid-Afrikaanse span die meeste lopies aangeteken en die meeste paaltjies geneem het.
Rekords volledig tot en met EDI #1550 op 16 Mei 2026. Laaste keer hersien op 3 Julie 2026. Wenpersentasies sluit onbesliste wedstryde uit en tel gelykop as ’n halwe oorwinning.[43]
Rekords volledig tot en met T20I #2909 op 2 Julie 2026. Gelykop verwys na wedstryde wat deur ’n valbyl (soos ’n Superboulbeurt) beslis is. Wenpersentasies sluit onbesliste wedstryde uit en gelykop as ’n halwe oorwinning (ongeag die valbyl).[44]
↑(en) Bruce Murray, Richard Parry en Jonty Winch (1 September 2018). Cricket and Society in South Africa, 1910–1971: From Union to Isolation. Springer.
Argentinië • Bahrain • België • Belize • Bermuda • Bhoetan • Botswana • Brasilië • Bulgarye • Chili • Cookeilande • Costa Rica • Denemarke • Duitsland • Eiland Man • Estland • Eswatini • Fidji • Filippyne • Finland • Frankryk • Gambië • Ghana • Gibraltar • Griekeland • Guernsey • Hongkong • Indonesië • Iran • Italië • Japan • Jersey • Kambodja • Kameroen • Katar • Kenia • Koeweit • Kroasië • Lesotho • Luxemburg • Malawi • Maledive • Maleisië • Mali • Malta • Meksiko • Mianmar • Mongolië • Mosambiek • Nepal • Nigerië • Noorweë • Oman • Oostenryk • Peru • Portugal • Roemenië • Rwanda • Samoa • Saoedi-Arabië • Serwië • Sierra Leone • Singapoer • Siprus • Spanje • Suid-Korea • Swede • Tadjikistan • Tanzanië • Tsjeggië • Turkye • Uganda • Vanuatu • Verenigde State • Volksrepubliek China
Ander spanne
Afghanistan • Barbados • Dominica • Grenada • Guyana • Internasionale XI • Jamaika • Jong Engeland • Nieu-Kaledonië • Sint Lucia • Sint Vincent en die Grenadines • Trinidad en Tobago • Wallis • Zambië
1 Vir beide Engeland en Wallis is Engeland die nasionale span.
2 Vir beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland is Ierland die nasionale span.
3 Vir Anguilla, Antigua en Barbuda, Barbados, Dominica, Grenada, Guyana, Jamaika, Montserrat, Sint Kitts en Nevis, Sint Lucia, Sint Maarten, Sint Vincent en die Grenadines, Trinidad en Tobago, die Amerikaanse Maagde-eilande en die Britse Maagde-eilande is Wes-Indië die nasionale span.